Posted on Leave a comment

Tydsbeplanning en my skoolwerk – Kry jou gratis studierooster

Tydsbeplanning is een van die heel belangrikste elemente om sukses in jou studies te behaal.  Sonder behoorlike beplanning gaan jy uit tyd uit hardloop en onnodige stres op jouself laai.  Daar is ‘n paar aspekte wat baie belangrik is wanneer jy tydsbeplanning doen.

  1.  Moenie oorhaastig wees nie.  Skryf al jou naskoolse aktiwiteite neer en beplan jou studies daarrondom.  Neem ook aspekte soos jou rustyd, badtyd en eettyd in ag wanneer jy beplan.
  2. Wees realisties.  Moenie te veel op een dag wil doen nie.  Maak seker daar is genoeg tyd vir jou huiswerk en ander aktiwiteite wanneer jy jou opsom tyd beplan.

3.  Moenie wag tot eksamentyd voor jy begin met jou opsommings nie.  Beplan jou tyd so dat jou opsommings reg deur die jaar op datum bly.  Wanneer dit eksamen tyd is moet jy net herhaal en hersien.

4.  Stel ‘n studierooster op.  Kliek hier om jou gratis studierooster af te laai.  Gebruik ‘n potlood wanneer jy jou studierooster voltooi want soms kan daar dinge voorval en moet jy aanpassings aan jou skedule maak.  Jou rustyd, oefentyd, badtyd en eettye moet ook in jou studierooster aangeteken word. 

5.   Soms kan mens ‘n studierooster opstel, net om dit eenkant te sit en nie te volg nie.  Motiveer jouself om jou studierooster te volg deur vir jouself belonings te gee.  Beloon jouself met iets lekkers om te eet of ‘n oulike fliek om te kyk wanneer jy jou dag of week se studierooster voltooi het. 

6. Glo in jouself en werk hard.  Dan sal jy sukses behaal.  

Kliek op die prentjie om jou gratis studierooster af te laai

Woon ons studie metodes werkswinkel by en leer hoe om te studeer volgens jou leerstyl.  Ons leer jou op ‘n praktiese manier hoe om op te som, te memoriseer, sleutelwoorde te herken en nog baie meer.  Ons help jou ook om jouself beter te leer ken deurdat ons ‘n persoonlikheidstoets en breindominansie toets met jou doen.  Kliek hier vir meer inligting 

Posted on Leave a comment

Eie opsommings vs gekoopte opsommings

In vandag se tye is gemak ‘n belangrike deel van ons lewe. Almal is besig en as ons tyd kan bespaar deur iets makliker te maak, hoekom dan nie?

So gebeur dit dan ook dat baie ouers in vandag se lewe dit makliker vind om opsommings te koop as dat hulle kinders hulle eie opsommings maak. Dit maak dit vir die ouer makliker en die kind spaar ook tyd omdat hy net die klaargemaakte opsommings kan leer.

Die groot voordeel van klaargemaakte opsommings is natuurlik tydsbesparing. Ouer en kind hoef nie ure lank te sit en opsommings maak nie. Maar is klaargemaakte opsommings net so effektief soos selfgemaakte opsommings?

As aanbieder van studie metode werkswinkels besef ek die belangrikheid van opsommings. Ons moedig kinders aan om hulle eie opsommings te maak. Maar hoekom kan ‘n mens nie net klaargemaakte opsommings gebruik nie?

Kom ons doen ‘n eksperiment. Kry jou gesin of ‘n paar mense bymekaar. Gee elkeen opdrag om die woord “vakansie” te teken. Vergelyk nou die tekeninge met mekaar. Lyk elkeen se tekening presies dieselfde? Beslis nie.

Elkeen van ons se brein is uniek en vanaf geboorte begin elkeen se brein om assosiasies vir woorde en konsepte te skep. Noem dit kortpaaie. Dit is daardie eerste gedagte of prentjie wat in jou kop opkom wanneer jy aan iets dink. Kortpaaie is ‘n baie belangrike deel van opsommings. Elkeen van ons se kortpaaie is uniek. Wanneer jy jou eie opsommings maak, gebruik jy die kortpaaie wat jou brein reeds geskep het. Wanneer jy iemand anders se opsommings gebruik, moet jou brein eers daardie persoon se kortpaaie leer, en dan kan hy die inligting weergee. Dis makliker om jou eie kortpaaie te onthou as wat dit is om iemand anders se kortpaaie te leer en weer te gee.

Opsommings is deel van die leerproses. Dis een van die stappe wat nodig is om leerwerk beter te kan onthou en beter te kan weergee. Hoe gouer ‘n kind leer om sy eie opsommings te maak, hoe beter is dit vir hom. Op Universiteitsvlak en in die werksplek gaan niemand vir hom opsom of sy werk vir hom doen nie. Hoe gouer hy leer om dinge self te doen, hoe beter is dit vir sy toekoms.

Om korrek op te som is soos om te leer hoe om ‘n musiekinstrument te speel. Mens begin nie dadelik ‘n liedjie vlot te speel nie. Dit vat tyd en oefening. Maar wanneer jy genoeg geoefen het, raak dit al hoe makliker en vinniger om liedjies te leer en te speel. Opsommings is dieselfde. As jy geleer het hoe om sleutelwoorde te herken en dan hoe om daardie sleutelwoorde in sinvolle opsommings te omskep, gaan jou leer tyd baie vinniger en meer effektief wees.

As jy nie seker is hoe om self op te som nie, kom woon een van ons stude metodes werkswinkels by. Gaan na http://www.studiemetodes.co.za/ vir meer inligting of om jou plek te boek.

Groete